Waarvoor ek staan

Gedurende Maart 2012 is ek tot die US-raad verkies. Hieronder volg uittreksels uit my motivering.


50-woorde beleidstelling soos deur die US versoek
In tye van wêreldwye mededinging en tegnologiese innovasie in die hoër onderwys is die toekomstige US geen massaonderriginstelling nie, maar toenemend selfstandig, uitmuntend en nismarkgerig, met volwaardige Afrikaanse onderrig.

Nota oor Afrikaans en 'n welkome kampus
Of Matieland sommige van sy belangrikste eienskappe gaan behou is deesdae nie meer seker nie. Van my belangrikste standpunte op die US-raad sal daarom wees dat: die universiteit voorgraads volwaardige Afrikaanse onderrig moet bied; al meer onafhanklik van die regering moet staan; en in die algemeen 'n uitnemende, karaktervolle nismark-ervaring moet koester.

Vanselfsprekend bly Engelse en ander nie-Afrikaanse Maties steeds netsoveel Matie - en so welkom soos altyd - soos ook al die ander Maties wat oor baie jare heen al kies juis vir die tradisieryke, Afrikaanse dorpskampus van Stellenbosch. Dit was in 2005 vir my 'n blye ervaring om te sien hoeveel nie-Afrikaanssprekende Maties ook 'n petisie vir 'n volwaardige Afrikaanse Stellenbosch en teen die T-opsie geteken het - Stellenbosch mét Afrikaans was immers iets waarvoor hulle bewustelik gekies het en só wou hou.

In 'n brief aan sommige oud-Maties brei ek as volg op my posisie uit
Die US-raad speel 'n bepalende rol in die lewenskrag en karakter van 'n Matieland wat ons na aan die hart lê. Enkele van die vrae wat oud-Maties myns insiens vir hierdie verkiesing behoort te oorweeg is:
  • Behou Stellenbosch die Afrikaanse kampuservaring en Afrikaanse voorgraadse onderrig waarvoor soveel Afrikaanse - en juis ook Engelse en ander Maties - oor die laaste eeu na Stellenbosch gekom het? 
  • Staan die universiteit naby aan die regering en sy toenemend twyfelagtige onderwys-, ras- en ander beleide, of posisioneer dit homself eerder as selfstandige en uitnemende deelnemer in eie reg? 
  • Is die universiteit 'n massa-onderriginstelling wat aanhoudend meer residensiële studente inneem en al meer verblyfplek oprig, of fokus dit op geskikte tegnologiese innovasie en koester dit 'n lojale nismark met inagneming van die dorpsaard van Matieland? 
Dit is in hierdie verband vir my aangenaam dat prof. Hermann Giliomee in 'n ope brief aan oud-Maties sy steun aan my kandidatuur toegesê het.

Nodeloos om te sê is dit my erns om die universiteit in sy geheel só te benader dat dit die invloedryke, eersteklas instelling bly waar my kinders, kinders van my mede-oud-Maties en 'n spektrum van nuwe Maties graag sal wil studeer en ontmoet. Benewens die belangrike beleidsvraagstukke, is ek dan ook bekwaam en ywerig om die omvattende oorsigverpligtinge van 'n raadslid deeglik na te kom.